Deel

Innovering maak Kaasfees sukses

Die 18de Suid-Afrikaanse Kaasfees wat die afgelope naweek buite Stellenbosch gehou is, was ’n reusesukses volgens die organiseerders, uitstallers én besoekers.

Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sê die SA Kaasfees is gevestig as Suid-Afrika se gewildste buitelug-koservaring. Dié viering van kaas en verwante produkte word sedert 2002 deur Agri-Expo aangebied en sedert 2011 op Sandringham buite Stellenbosch gehou.

Die groot verskeidenheid uitstallers van kaas- en ondersteunende produkte is volgens Ehlers ’n belangrike rede vir die groeiende sukses van die fees. “Ons het vanjaar ’n rekordaantal uitstallers – meer as 170 – gehad. Boonop was sowat ’n derde van hulle nuwe deelnemers. Ons is saam met die uitstallers ingenome oor die geweldige koopkrag by vanjaar se fees. Ons skryf dit toe aan die gehalte en bekostigbaarheid van die produkte.”

Ehlers sê kaartjies vir die Saterdag van die fees, wat 10 000 mense per dag kan huisves, was die vroegste nog uitverkoop.

Kommersiële en boetiekkaasmakerye van reg oor die land en ook die buiteland bring jaarliks meer as 20 ton kaas na die Cheese Emporium.

Ehlers sê uitstallings van boetiekkaasmakerye van heinde en ver is uniek aan die SA Kaasfees. “ ’n Aantal klein kaasmakers is weer genooi om hul unieke handgemaakte produkte bekend te stel.”

Een van die pluspunte vir feesgangers vanjaar was groter deelname van internasionale kase uit veral Italië en Nederland waarmee plaaslike produkte vergelyk kon word. ’n Splinternuwe toevoeging tot die Cheese Emporium was ’n piazza met alles Italiaans – Italiaanse kase, olywe, Provolone, Prosciutto di Parma, pasta, pesto én Italiaanse gasvryheid in oorvloed.

Een van dié deelnemers was Ciao Ciao, ’n splinternuwe kaasmakery wat slegs tien dae voor die fees geopen het. Volgens die mede-eienaar, Maurizio Odiema, het hul buffelmozzarella en fior di latté baie goed verkoop. “Ons het reeds belangstelling van ’n bekende kleinhandelaar gekry asook hulp met die aansoek om ’n uitvoerpermit.”

Die Tasting Room was ’n groot gunsteling onder besoekers. Bekende sjefs soos Pete Goffe-Wood, The Food Fox, Ilse van der Merwe, Lapo Magni en The Kate Tin, Katelyn Allegra, het daagliks ses pas-en-proedemonstrasies aangebied. Besoekers kon kaas saam met wyne soos SA se top chenin blanc en sauvignon blanc, bier en selfs sjokolade geniet en ook leer wat Prosecco anders as Champagne maak.

‘n Hoogtepunt in die Tasting Room was volgens Ehlers Suid-Afrika se Suiwelproduk van die jaar vir 2019 – die 50/50-bok-en-koeimelkkaas St Francis of Ashisi van Belnori Boutique Cheesery – wat besoekers in ’n proesessie kon beproef. “Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat besoekers saam met die kaas kon proe aan Deep South Distillery se Cape Dry Gin, wat pas aangewys is as die London Spirits Competition se Jenewer van die jaar vir 2019.”

Besoekers kon vanjaar vernuwende skeppings van sowat 50 uitstallers se nis- en alternatiewe produkte uittoets en koop. Interessante nuwighede sluit in perlemoenpastei, kombucha-asyn, plaashoenderbiltong, gepekelde alikreukel, rooibosvodka en insekroomys. Meer as 30 resepte wat kaas, brood en alternatiewe produkte kombineer, is spesiaal ontwikkel vir kookdemonstrasies wat daagliks in die Cape Made Kitchen aangebied is.

Die SA Kaasfees is reeds verskeie keer as die beste verbruikersuitstalling in Afrika (groter as 12 000m²) deur AAXO (Association for African Exhibition Organisers), asook as die Kaapse Wynland se Fees van die jaar in 2018, bekroon.

Ehlers sê dit is vir Agri-Expo ’n voorreg om deur die uitstal- sowel as die toerismebedryf vereer te word. “Ons is vanjaar ook oorval met talle positiewe terugvoer van besoekers, uitstallers en vennote oor nuwe feeservarings wat geskep is, die uitleg van die terrein en die gesellige samesyn in die verskillende tente en kuierareas,” sê Ehlers.

Die organiseerders het die beste uitstallings in ses kategorieë bekroon, waaronder die nuwe uitstaller, Diesel & Dust Craft Beer. Die wenners was Ladismith Kaas (kommersiële kaas); Kasselshoop (boetiekkaas); Diesel & Dust Craft Beer (alkoholiese produkte); Las Paletas (verwante produkte); Busy Bee Apiaries (alternatiewe produkte); Piroschkas Flammkuchen (“Gourmet Lane”); en Wes- en Suid-Kaap-Angus-klub (melkfabriek).

V Die 19de SA Kaasfees vind plaas van Saterdag 25 April tot Maandag 27 April 2020 by Sandringham-landgoed buite Stellenbosch.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
17.79
+0.0%
Rand - Pond
21.97
-0.1%
Rand - Euro
19.34
-0.2%
Rand - Aus dollar
11.90
-0.0%
Rand - Jen
0.13
+0.0%
Platinum
991.31
+1.1%
Palladium
1,460.24
-1.2%
Goud
1,969.50
0.0%
Silwer
24.11
0.0%
Brent-ruolie
79.89
+1.6%
Top-40
70,498
-0.8%
Alle aandele
76,100
-0.8%
Hulpbronne 10
66,234
-1.9%
Industriële 25
102,950
-0.3%
Finansiële 15
15,496
-0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos