Op die vraag vir wie hy dan skryf, het Harry Kalmer ’n ruk gelede in ’n onderhoud gesê ná nege (intussen meer) boeke het hy ’n goeie idee wie sy lesers is. “Hulle is nuuskierig, geniet goeie stories en waardeer dit dat ’n nuwe boek nie noodwendig soos ’n vorige een lees nie.”
Takseer jy sy jongste boek aan die hand van die laaste opmerking gee jy hom inderdaad gelyk. Ten opsigte van sy verhalende werk het Kalmer onder meer kortverhale gebundel (Die waarheid en ander stories) en Groceries – 56 stories oor huishoudelike produkte, verhale met speur- en spanningslyne gepubliseer (X-Ray Visagie en die Vingers van God en Kniediep) en ’n stewige literêre prys verwerf met die vertaalde weergawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg. Vroeër vanjaar het hy saam met die visuele kunstenaar Hannelie Coetzee Die agste plaag die lig laat sien, ’n boek wat die grens na die kunstenaarsboek gemaklik oorsteek.
Dit beteken nie dat die nuwe boek, In ’n land sonder voëls, só anders is dat die nuuskierige (of eerder wakker) leser nie die spore van vorige karakters gaan teëkom nie. Die eggo’s is daar, hoewel Kalmer die leser ’n nuwe rigting stuur – dié van die toekoms.