De Wet Hugo, die bekende kinderboekskrywer, het onlangs sy nuwe boek, Grilgrypers 4: Die Meisie in die maanlig, bekend gestel.
Hugo, wat tans oorsee werk, is vir die afgelope paar jaar ’n Kleinmonder en het ’n huis in die dorp.
“My ouers woon daar, ons het my hele lewe lank daar vakansie gehou en my oupa-hulle het ook daar gewoon. My heel eerste boek (Die vloek van Vreesbaai) se idee het ontstaan toe ek vier jaar gelede een dag in Kleinmond alleen deur die mistigheid gaan stap het. Daarom speel dit op ’n mistige kusdorpie af,” sê Hugo.
Soos enige skrywer het Hugo jare gelede gedroom oor skryf en hy het sy manuskripte voorgelê en gereeld afkeur-briewe ontvang voordat hy deur een van die uitgewers “raakgesien” is.
Tans is hy ’n onderwyser by die Jeddah Prep and Grammar School in Saoedi-Arabië waar hy tussen skoolhou deur aan sy boeke skryf.
“In my nuwe boek Die meisie in die maanlig kom Babette by die gawe tannie Theodora uit wat in Rustfontein, ’n geskiedkundige dorpie wat wemel van eienaardige stories, woon. Gelukkig ontmoet sy die aantreklike Tiaan en vind sy uit sy kan haar sangtalent in ’n plaaslike musiekproduksie uitleef. Maar iets spook by haar. Wie is die bebloede meisie wat in haar kamer verskyn? En wat het dit te doen met die legende van onsterflikes wat zombies gebruik om kinders na die ou begraafplaas op die bult te jaag?” vertel Hugo.
Hy sê dit is vir hom vreeslik lekker om terugvoering te kry oor sy boeke en noem dat sommige ouers bieg dat hul tieners soms Hugo se hele reeks boeke gelees het.
“Die genre van grilboeke is iets wat seuns en meisies baie geniet en dis lekker om so bydraes te kan lewer tot die bevordering van lees onder ons kinders. Al my boeke het sterk spanningslyne en daar wag ’n skrik of twee op elke tweede bladsy van my boeke. Soms as ek vir die aand klaar geskryf het, moet ek eers oor my skouer loer voordat ek my lig afskakel,” sê Hugo.
Indien jy meer inligting benodig oor Hugo se boeke, kan jy sy webwerf besoek by www.dewethugo.co.za en natuurlik is sy boeke ook by jou naaste boekwinkel beskikbaar.