Panyaza Lesufi, in vroeë kinderontwikkeling werk dit só: “Ek wil met kinders werk, want ek is mal oor hulle,” is ’n grondliggende eienskap van ’n goeie onderwyser. Dis wel nie die enigste vereiste nie. Onderwysers moet goeie opleiding kry en deurlopend ondersteun word om hul vaardighede uit te brei. Die droom is gaaf, maar die uitvoering problematies.
Die departement praat al 20 jaar daarvan om gr. R verpligtend te maak, maar kon dit nog nie uitvoer nie. Die staat dra slegs ’n klein deel van gr. R-onderwysers se salaris by. Ouers betaal die res. Kleuterskoolonderwysers wat oor ’n vierjaargraad beskik, verdien dikwels minder as die helfte van ’n ongeskoolde mynwerker se salaris.
“Die dae van net speel en slaap is verby.” Afskeep en verwaarlosing is uit, maar kleuters móét nét speel en nie vasgekeer word met werkkaarte nie. ’n Goeie opvoedkundige program maak juis voorsiening vir gerigte spel en slaaptyd.