Spanning in die DA oor Mmusi Maimane se uitlatings oor wit bevoorregting en swart uitsluiting is nie noodwendig ’n slegte ding nie, mits dit sinvol en produktief hanteer word.
As party wat gegroei het uit wit liberale wortels, is die DA deesdae ’n sterk veelrassige party met ingewikkelde uitdagings in ’n steeds diep verdeelde samelewing. Die party funksioneer inderdaad nie in ’n lugleegte nie, en is ook nie geïsoleer van rassespanning in die breër Suid-Afrikaanse samelewing nie. Dit was byvoorbeeld ook duidelik in die konfrontasie tussen Maimane en Helen Zille, premier, oor haar onverskillige kolonialisme-twiet.
Emosie oor sake soos dié word wyd in die party gedryf deur ’n rassefoutlyn wat regdeur die samelewing loop: swart mense se belewenis dat die pyn wat deur kolonialisme en apartheid veroorsaak is nie na behore raakgesien en erken word nie, en wit mense se belewenis dat hul bydrae tot die welstand van die land misken word.