Dertig burgerlike organisasies het vier staatsdepartemente in ’n ope brief gevra om Eskom te dwing om die regering se verbintenis en wetlike verantwoordelikheid tot hernubare energie te eerbiedig.
In die brief, wat deur die regslui van die Sentrum vir Omgewingsgeregtigheid (CER) geskryf is, vra hulle Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, Edna Molewa, minister van omgewingsake, en dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, om Eskom voor stok te kry omdat sy raad aangekondig het hy gaan nie meer belê in hernubare-energieprojekte nie.
Die brief verwys na Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, wat in Mei vanjaar gesê het hernubare energieprojekte in Suid-Afrika “is ’n mislukking omdat dit nie krag lewer wanneer Suid-Afrika dit die nodigste het nie”.