Die ANC sal nie ’n jaar voor ’n nasionale verkiesing wil baklei nie en sal dus waarskynlik kompromieë aangaan om te verseker dat sy verkiesingskonferensie wel in Desember plaasvind.
“Die konferensie moet voortgaan omdat sy huidige leierskap in Desember verval. Op watter basis sal hulle aanbly? Hulle sal met ’n baie ernstige probleem van legitimiteit sit as die konferensie nie voortgaan nie,” het dr. Mcebisi Ndletyana, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, Maandag by navraag gesê.
Dit kom nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die afgelope drie dae in ’n spesiale vergadering gewikkel was om sy beplanning vir die Desember-konferensie te finaliseer.