Samsung het Sondag voor die Mobile World-kongres in Barcelona, Spanje, sy nuwe vlagskipfoon, die Galaxy S9 en die ietwat groter S9+, bekend gestel.
Die S9 spog met verbeterde visuele toepassings vir sosiale media, iets wat Samsung hoop jonger gebruikers sal lok en die verlamming in die internasionale mark vir slimfone gaan teenwerk.
Met die wêreldwye slimfoonmark wat afplat of selfs krimp ná ’n groeikoers van net 1% verlede jaar, fokus vervaardigers nou op innoverende nuwe funksies in die hoop dat gebruikers hul ou toestelle vir die jongste modelle sal ruil, berig Reuters.