Deel

Kyker as waarnemer en ondersoeker betrek

The Bystanders – Claudette Schreuders

Stevenson, Johannesburg

Claudette Schreuders se

Claudette Schreuders het nie dikwels solo-uitstallings in Johannesburg nie. Die laaste een was Family Relation in 2007 by Warren Siebrits toe hy nog sy galery Warren Siebrits Modern and Contemporary Art gehad het, en voor dít Teken in 2003 by die destydse Art on Paper in Melville.

The Bystanders is in meer as een opsig ’n welkome uitstalling in die noorde. Schreuders wys nie net vier nuwe beelde nie, maar ook tekeninge in akriel-ink op papier én etlike chine-collé-litografieë. Boonop bied die ruimte op die vyfde vloer van Stevenson se galery in Braamfontein ’n oorsig oor dié kunstenaar se beeldhouwerk in die vorm van sowat 70 litografieë gedruk deur Mark Atwood, meesterdrukker van The Artists’ Press. Dit is die eerste keer dat dié lito’s, wat dateer van so ver terug as 2003, saam vertoon word.

’n Belangrike uitstalling vir Schreuders én kunsliefhebbers in Johannesburg dus.

The Guilty Bystander in jelutong met emaljeverf (2017) is die spilpunt in dié uitstalling – nie net omdat sy so prominent in die eerste groot vertrek die aandag boei nie, maar ook omdat sy in haarself gedaantes van vorige Bystanders (2006 en 2008) en talle inkarnasies van ander soorte buitestanders verteenwoordig.

Geklee in ’n eenvoudige rok met ’n herhalende geometriese patroon staan dié bleek voshaarvrou hande agter die rug, haar blik ontwykend elders. Sonder voetstuk, platgevoet op die vloer, staan sy met ’n kop vol stories waartoe die besoeker, vernuftig soos wat hy of sy ook al mag wees, geen toegang kan kry nie. Hoe openbaar sy ook al mag staan, haar privaatheid dra sy soos ’n geheim, soos die skuld wat sy dra.

As “skuldige omstander” staan sy losweg, half onverbonde, op die galeryvloer, asof sy toevallig daar is en enige oomblik kan verkas.

Eweso die vrou wat ingedagte en vir ewig hare staan en kam in Hair (2017) of die figuur wat in Spent (2017) die ewigheid inslaap.

Nietemin het sy, soos al Schreuders se beelde, metaforiese wortels wat haar anker in ’n visuele argief – dink maar aan die Wes-Afrikaanse colon-beelde, aan die 17de eeuse beelde van die Spanjaard Pedro de Mena en selfs beeldjies so ver terug as die Romeinse penate, die huisgode wat mettertyd simbole geword het vir die voortgesette lewe van huisgenote. Of huislikheid, soos die budjie op sy stokkie (Budgie, 2017) suggereer.

In dié herkenbare figure, handelinge en houdings is dit die sorg waarmee Schreuders gestalte gee wat opval: Die onbehandelde hout wat vel word, die kerfwerk wat tekstuur gee en die verfwerk wat tekstiele word. Oor haar hantering van skoeisel sou ’n mens ’n opstel kon skryf.

Waar haar litografieë as’t ware ’n optekening word van haar beelde – met ’n greinerige bekoring van hul eie – is die agt akrieltekeninge tweedimensionele eweknieë van die beelde. Gevoelig vir lig, vir skadu’s, kry dié figure lewe, soveel dat ’n mens voel asof jy daaromheen wil stap. Soos met die beelde.

Dié behoefte word as’t ware moontlik in Note to Self (2017), drie nuwe chine-collé-litografieë wat op die vyfde vloer vertoon word, ’n uitsonderlike reeks selfportrette van die kunstenaar besig om aantekeninge te maak. Die een van voor, die een van die kant en met ’n skuins blik op die laaste een. Die plasing van die figure in die middel van die velle wit papier wek dieselfde gevoel as wat ’n mens het met The Guilty Bystander: dié van die afwesige waarnemer, die ingekeerde ondersoeker, die nadenkende enkeling.

En gaandeweg begin ’n mens jouself in dié portrette herken. As waarnemer, as ondersoeker . . .

Tot 11 Augustus

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.06
+1.3%
Rand - Pond
22.20
+1.0%
Rand - Euro
19.64
+1.1%
Rand - Aus dollar
12.11
+0.9%
Rand - Jen
0.14
+0.8%
Platinum
984.26
-0.1%
Palladium
1,433.44
-0.6%
Goud
2,001.62
+1.6%
Silwer
23.19
+0.9%
Brent-ruolie
76.69
+1.8%
Top-40
70,066
+0.4%
Alle aandele
75,585
+0.5%
Hulpbronne 10
65,190
-0.9%
Industriële 25
102,646
+0.9%
Finansiële 15
15,424
+0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos