’n Lang pad na herstel lê nog vir ’n vierjarige meisie voor nadat ’n leeuwyfie haar kloue in die meisie se kop ingeslaan het terwyl haar pa haar vergeefs probeer beskerm het.
Pieter de Beer, die pa van Dina-Marie, sê haar toestand is stabiel, hoewel dit nog ’n lang pad is voordat sy uit die waakeenheid van die Netcare-Union-hospitaal in Alberton ontslaan sal word.
’n Deel van haar skedel is verwyder om die druk op haar brein te verlig. Haar kopvel, wat afgeruk is, kon nog nie geheg word nie. Sy is in ’n geïnduseerde koma en haar ouers is by haar.