Die koronavirus en die meegaande inperking het ons in ’n donker tyd gedompel – en alle aanduidings is dat ’n selfs donkerder tyd voorlê.
Dit is dus belangrik om te vra: Na wie luister die leiers wanneer hulle besluite moet neem – wie is die stemme in hierdie donker tyd?
Die goeie nuus is dat wetenskaplikes, anders as in baie ander lande, ’n belangrike rol in Suid-Afrika speel. Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die regering se adviesraad oor Covid-19, se aanbieding verlede Maandagaand was insiggewend, oortuigend en verantwoordelik. So ook die paneellede wat saamgesels het.