Kaapstad. – Tradisionaliste gaan in hul tee stik met die jongste inisiatief in die Varsitybeker-rugbyreeks: Tot 12 punte word verdien vir ’n verdoelde drie!
Dít sal egter afhang van waar ’n span die drie druk, volgens die amptelike webwerf van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se skeidsregters, sareferees.com.
’n Drie is vyf punte werd, maar ’n span sal vier bonuspunte bykry as die oorsprong van die beweging in sy eie helfte geloods is. Maar dan móét hy van begin af tot aan die einde in besit wees het.