Vandag 60 jaar gelede, op 9 Augustus 1956, het vroue na die Uniegebou opgeruk en ’n halfuur lange stilte gehandhaaf in protes teen pasboeke. Saterdagaand het vier jong vroue dieselfde gedoen, in stille protes teen ’n president, skryf Melanie Verwoerd.
Tydens ’n studentebetoging in Beijing in 1989, waar die studente gepleit het vir demokrasie, het ’n enkele jong man na die middel van die pad gestap, op die rand van Tiananmen Square, en reg in die pad van vier tenks gaan staan wat na die betogers op pad was.
Hy het vas gestaan teen die eerste tenk en beweeg elke keer wanneer die tenk om hom probeer kom het. ’n CNN-kameraspan het dit afgeneem en dis oor die wêreld heen uitgesaai. Dekades later is die beeld van die onbekende man voor die tenk steeds ’n simbool van dapperheid en waagmoed teen mag en onderdrukking.