Een van die ongemaklikste – en, het ek later besef, mees onbesonne – meningsverskille wat ek nog gehad het was met ’n bejaarde vrou in ’n museum, omtrent ’n dekade gelede.
Sy het ’n tatoeëermerk op haar arm gehad. Dit was nie sommer enige tatoeëring nie, en dit was ook nie sommer enige museum nie: Yad Vashem het my, met daardie 2011-besoek, met ’n indruk van byna ontstemmende kalmte gelaat, terwyl ’n briesie deur die bome aan die westelike hang van Jerusalem se Herzlgebergte ’n mate van verligting van die hitte verskaf het. Binne was dit koeler, en baie stil. Maar daar is niks kalmerends omtrent hierdie gedenkstuk aan dié katastrofe wat die historikus Max Hastings as die “grootste menslike ramp in die geskiedenis” beskryf het nie.
’n Besoek aan dié uitnemende monument oor die massamoord op die Jode is ’n uiters ontstellende ervaring. Sonder om te dink, het ek dit reggekry om dit meer so te maak deur met ons gids, die vrou met die tatoeëring op haar arm, in ’n meningsverskil betrokke te raak.