Die matriekslaagsyfer van Afrikaanse skole is 86,9% teenoor die landwye slaagsyfer van 78,2%, sê Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) in ’n verslag wat Dinsdag uitgereik is.
“Indien Afrikaanse skole se uitslae nie by die 2018-matriekuitslae ingereken word nie, sou die departement van basiese onderwys die afgelope week met ’n veel laer slaagsyfer, minder onderskeidings in wiskunde en ’n kleiner persentasie universiteitsvrystellings gespog het,” sê Elaine Krige, skakelbeampte van die SOS.
Die SOS stel jaarliks ’n verslag oor die prestasie van matriekleerlinge in Afrikaanse skole saam. In dié geval word Afrikaanse skole gedefinieer as enige skool wat Afrikaans as huistaal aanbied.