Marelize Horn (19), die Namibiese vrou wat oornag ’n internet-sensasie geword het oor ’n video wat wys hoe sy met haar fiets in ’n rugbypaal vasry, het die afgelope week valskerm gespring.
“Dit het gevoel asof ek op 60 rollercoasters op een slag ry. My maag wou net nie ophou draai nie,” het sy Vrydag laggend uit Windhoek aan Netwerk24 gesê.
Op die video waar Marelize (19) in die rugbypaal vasry, laat die persoon wat die video neem, die kamera sak en sê moedeloos: “My f*k, Marelize.” Nadat die video soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, is dié frase op almal se lippe wanneer iets verkeerd loop. ’n T-hemp met dié woorde verkoop blykbaar soos soetkoek.