Die man se gerimpelde hande het my al kort voor die tafelgebed opgeval. Elke rimpel was deel van ’n padkaart; ’n herinnering aan sy eindelose dae in die ongenaakbare son. Sy hande was, as ’n boer, die laaste paaiement van sy lewenslange liefde vir die grond.
Tydens die tafelgebed kon ek nie help om ongemerk, sommer met die een oog, weer na sy hande te staar nie. Dit was byna volmaak in dié van sy vrou s’n gevou; so asof hulle hande in ’n ander tyd reeds bestem was om eendag mekaar te vind. Hul kinders, twee opgeskote meisiekinders, se hande was byna kontrasterend onverbeterlik – ’n indikasie dat hulle nog nie ’n dag in hulle lewe gewerk het nie.
Ons, as ’n gesin, het self nooit hande vasgehou tydens die tafelgebed nie, hoewel dit ’n gebruik is wat my nog altyd met ootmoed gevul het. Soos die meeste mense, seker maar, was dit vir my ’n blote formaliteit wat gewoonlik afgerammel is sodat die ete en gesprek kon begin. Trouens, my pa moes my male sonder tal op die vingers tik wanneer ek begin eet het voordat die seën gevra is.