’n PAAR jaar gelede sou die idee van fotovoltaïese-sonpaneelaanlegte wat lughawens van krag voorsien, hoogs ondenkbaar wees – veral hier aan die suidpunt van Afrika waar sterk op steenkool vir kragopwekking gesteun word.
Wêreldwyd begin grootskaalse sonkragopwekking al hoe meer na ’n alternatief lyk. In Amerika is dié tegnologie met groot sukses ingespan: Die Ivanpah-sonkragaanleg in die Mojave-woestyn in Kalifornië – om een voorbeeld te noem Z is die grootste sonkrag-aangedrewe termiese gerief ter wêreld. Dit bied glo ’n kapasiteit van 392 megawatt (MW) – genoeg om aan meer as 140 000 huise krag te kan voorsien!
Dit is ’n enorme hoeveelheid energie wat deur gratis sonlig opgewek kan word.
Noord-Kaapse sonkragprojekte op die plaas Droogfontein by Kimberley en by De Aar het reeds uitsonderlike prestasies behaal en gewys wat met sonkrag gedoen kan word.
Die Droogfontein-sonkragprojek – een van die eerste sonkrag-projekte in Suid-Afrika Z spog op sy webwerf dat dié gerief sowat 85 458 MW per jaar opwek, genoeg om jaarliks aan die energiebehoeftes van 19 000 huise te voorsien.
Die grootste lughawens in die Noord-Kaap Z dié van Kimberley en Upington – volg in dié projek se voetspore en baan nou die weg met 500 kilowatt (kW) sonaangedrewe fotovoltaïese-sonpaneelaanlegte wat tans onder konstruksie is.
Hoewel die lughawens vir eers nie volkome op sonkrag sal kan staatmaak nie, is dit nogtans ’n stap in die regte rigting.
Veral hier in die Noord-Kaap, waar sonskyndae in oorvloed is, en met winde wat gedurig waai, is dit die ideale gebied om herwinbare energie soos sonkrag en windlaaiers te ontgin.