Die nuwe hofaansoek wat pas teen Steinhoff gebring is, onthul dat daar moontlik verdagte transaksies met Tekkie Town se aandele was – dieselfde soort transaksies as dié wat pas in ’n forensiese ondersoek na Steinhoff se boeke aan die lig gebring is.
Die hofaansoek is Dinsdag op ’n dringende grondslag gebring deur die voormalige eienaars van Tekkie Town – onder andere Braam van Huyssteen en Bernard Mostert – om ’n interdik te kry om Steinhoff en sy filiaal Pepkor te belet om die aandele of die bedrywighede van Tekkie Town te verkoop.
In die hofaansoek word beweer ’n reeks transaksies wat daartoe gelei het dat Tekkie Town aan die Suid-Afrikaanse Steinhoff Africa Retail (Star, sedert verlede jaar net bekend as Pepkor) behoort, is baie soortgelyk aan die verdagte transaksies wat uit PwC se forensiese ondersoek na vore gekom het.