’n 49-jarige onderwyser het Dinsdagoggend gesterf in die gang van ’n skool in KwaZulu-Natal nadat ’n man hom in die kop en die maag geskiet het.
Muzi Mahlambi, woordvoerder van die onderwysdepartement in KwaZulu-Natal, het gesê Sboniso Nyawose was ’n gr. 7-onderwyser aan die Masuku Primary School in Folweni, suidwes van Umlazi. Dit is sowat 30 km buite Durban.
Volgens Mahlambi het die departement intussen veiligheidswagte by die skool ontplooi en beraders is reeds na die skool gestuur om die geskokte leerlinge en personeellede by te staan.