Alex Thorne (29) droom al vandat sy ’n sesjarige dogtertjie is van haar troudag maar haar moed het in haar skoene gesak toe die eienaars van ’n pragtige troulokaal haar trouplanne in ’n woud by Stanford op grond van haar seksualiteit afkeur.
Beloftebos se eienaars glo egter dat hulle ongehoorsaam sal wees aan God se opdrag indien hulle Thorne se troue sal toelaat en dan moontlik vir ewig verdoem sal wees daaroor.
Al is sy nog nie verloof nie, is Thorne al twee jaar lank in ’n verhouding met ’n Chinese Amerikaner en ná haar onlangse besoek aan Amerika was trouplanne uiteindelik vir haar op die kaarte.