“Ons word vandag voor ’n eenvoudige keuse gestel: selfbeskikking of dood.”
Só het prof. Carel Boshoff, een van die stigterslede van die Orania-beweging, ten tyde van ’n toespraak op die viering van die beweging 30ste bestaansjaar gesê.
Die beweging is op 21 Maart 1988 deur Boshoff en ander gestig met die doel om die Afrikaner se vryheid staatkundig te herwin in ’n kleiner gebied.
Dit het uitgeloop op die aankoop en ontwikkeling van Orania as eerste volkstaatgroeipunt in 1991.
“Afrikaners is deur die hoogste wetgewende gesag in die land tot koloniste sonder reg op grond gereduseer,” het Boshoff in sy toespraak gesê.
“Hierdie besluit, waaraan die ANC met entoesiasme meegedoen het, het ’n einde aan die era van versoening wat deur president Mandela ingelui is, gebring en is sonder enige raadpleging of instemming van Afrikaners teweeg gebring.”
Boshoff meen dat planne vir grondonteiening sonder vergoeding die laaste illusie dat die Afrikaner hom vrywillig bevind waar hy is, vernietig; ook dat dit die einde van baie Afrikaners se laaste vryheid is wat onder die nuwe vlag aangekondig is.
Volgens Boshoff sal die Burgerraad binnekort in diepte besin oor die situasie en die Orania-beweging leiding gee ten opsigte van gepaste optrede ten opsigte van hierdie scenario.
Hy meen dat die beweging aanpasbaar moet wees en met die tye moet verander.
“As ons bly aangaan soos ons nou aangaan, sal ons nie kan aangaan nie.
“Pres. Thabo Mbeki het dit per geleentheid nogal mooi gestel toe hy gesê het: ‘Not bussiness as usual, but bussiness unusual’.
“Negatief gestel, ons kan nie in ’n gemaksone terugsak waar ons elke dag doen wat ons elke dag doen asof ons nie voor die grootste krisis van ons volksbestaan te staan gekom het nie.
“Positief gestel, ons moet ons begeestering herwin, ons moet onthou waarmee ons besig is en elke dag met die inspirasie en idealisme vul wat ons in die eerste plek hier byeengebring het.
“En ons moet dit uitdra aan elkeen wat nog nie weet of verstaan nie, want nood is ’n vrugbare groeimedium vir idealisme,” meen Boshoff.
“Ons moet tegelyk met Orania en met meer as Orania besig wees; ons moet ’n kern- en ’n streeksperspektief hê as ons betekenisvolle vlakke van selfbeskikking wil bereik – en ons moet uitwerk wat dit vir ons gaan inhou.
“Nie óf die een, óf die ander nie, maar die een én die ander: ’n kern en groeipunt sowel as ’n hinterland en streek.
“Dit gaan nog kopwerk verg,” meen Boshoff.