Die dokumentêre rolprentmaker Jolynn Minnaar is op 29 November om 19:27 op SABC3 self in die kamera se fokus. In die kortrolprentreeks Icons word die lewe belig van dié 27-jarige aktivis wat teen hidrobreking gekant is.
Minnaar, ’n oudleerling van die Hoër Meisieskool Eunice in Bloemfontein, het die internasionaal bekroonde rolprent Unearthed oor hidrobreking gemaak om plaaslike gemeenskappe oor die nadele van skaliegas-ontginning in te lig. Sy het verskeie pryse ontvang, onder meer die gesogte Groen-toekenning op die Sheffield- Internasionale Dokumentêre Rolprentfees.
Minnaar is ook vir haar bewusmakingswerk in gemeenskappe in die Karoo (die Voices of the Karoo-veldtog) en die res van Afrika oor hidrobreking uitgesonder.
“Ek is ’n jong Suid-Afrikaanse storieverteller wat graag ’n beter toekoms vir my land wil sien. As ek dit kan doen deur die rolprentkuns en fotografie in te span sal ek baie tevrede wees.
“Rolprente is ’n ongelooflike manier om ’n bydrae tot die wêreld te lewer; jy kan sosiale verandering bring wat ’n impak op mense se lewe sal hê,” sê sy.
Minnaar het op ’n plaas naby Graaff-Reinet in die Karoo grootgeword.
Nadat sy ’n graad in mediastudie en rolprentproduksie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het berigte oor hidrobreking haar sodanig geprikkel dat sy vyf maande lank in Amerika navorsing oor dié omstrede onderwerp gedoen het. Amerika is die enigste land waar skaliegas al deur hidrobreking ontgin is.
Toe sy terugkeer het sy nie net die dokkie Unearthed gemaak nie, maar ook deur die Karoo gereis om gemeenskappe persoonlik oor die nadele van hidrobreking in te lig.
- 21 Icons is ’n TV-reeks wat fokus op Suid-Afrikaners wat deur hul impak, integriteit en invloed ’n inspirasie vir landsburgers is. Die derde reeks waarin 21 uitskieters aan die bod kom, word nou uitgesaai.