Sy lessenaar by Hillcrest Primary School in Helenvale het steeds sy naam op, maar die stoeltjie waarin klein Recolin Witbooi (8) in klastyd gesit het, is leeg.
By die huis staan ’n splinternuwe paar skoolskoene wat hy nog nie kon dra nie en sy ma, Chriszelda Witbooi, huil nog oor haar seun wat 14 dae gelede spoorloos verdwyn het.
Bekommerde lede van die gemeenskap soek sedert sy verdwyning nog elke dag en nag na hom – maar dit het nog niks opgelewer nie. Die skoolhoof en onderwysers ry ook elke dag in hul motors in die misdaadgeteisterde Helenvale in Port Elizabeth rond op soek na Recolin.