'n Mens kan nie lewens in die lug bou nie, het die jong Afrikaanse digter Pieter Odendaal in 'n huldeblyk-gedig aan Adam Small geskryf.
die eerste steen
vir adam small
ek sou graag net ’n klipgooi vêr
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klippe in hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die grys skerm
van die dag projekteer
’n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
’n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom optel
miskien sou ek saam
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ’n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ’n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god
maar oukei met als gewees
hy’s ’n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil
*Odendaal se gedig is in 2011 gepubliseer as deel van Versindaba se huldeblyk aan Small. Odendaal was toe 22 jaar oud.