Kan mens op meer as een manier erkenning gee aan ’n probleem? En wat beteken dit as ons diagnoses van dieselfde probleem verskil? Hoe vervleg ons ons nuanses om tot ’n vergelyk te kom? Hoe bring ons kompleksiteit terug in ’n debat in tye van hashtags en slagspreuke?
Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie praat oor die gevaar van ’n enkele storie. Die gevaar waar ons as komplekse mense vereenvoudig word tot ’n enkele verhaal. Want ons, as mense, is komplekse stories. Om mense tot een verhaal te beperk, is om mense se menswaardigheid te ontken.
Die een bekende storie oor plaasmoorde en onteiening is dat wit mense na die kantlyn geskuif, of aangeval word deur die (swart) regering. Op die Amerikaanse nuuskanaal Fox News verkondig Tucker Carlson dat grond in Suid-Afrika gevat word sonder enige vergoeding, gegrond slegs op etnisiteit. Wit boere, sê Carlson, is die teiken van ’n vlaag van barbaarse aanvalle. ’n Enkele storie. Wit boere, swart barbare.