Dit lyk nie asof daar ’n tekort aan “gewillige verkopers” van plaasgrond in Suid-Afrika is nie. Terwyl die Wetsontwerp op Onteiening – wat die einde van die gewillige-koper-gewillige-verkoper-model beteken – op pres. Jacob Zuma se handtekening wag, is daar baie plase in die mark wat op kopers wag.
Landbouweekblad berig dat die aantal plase wat in Suid-Afrika te koop is, binne ’n jaar met sowat 45% opgeskiet het – van 13 254 in Februarie verlede jaar tot 19 280 in Mei vanjaar. Dié syfer is verkry van die webwerf se platform vir plaasverkope wat deur Property24 saamgestel word.