In Suid-Afrika is die verhaal van Robin Hood, wat namens die armes by die rykes gesteel het, in trurat gedwing sodat die rykes en die politikus-entrepreneurs by die armes kan steel.
Van dié verskynsel kan daar kwalik ’n beter voorbeeld wees as die gebeure by VBS Mutual Bank, wat beskryf word in ’n forensiese verslag deur Werksmans-prokureurs en adv. Terry Motau in opdrag van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.
Die bank, wie se apologete daarmee gespog het dat dit ’n swárt bank was, se base het naamlik munisipale amptenare in noordelike provinsies van die land, vernaam Limpopo, omgekoop om deposito’s van altesame miljarde rande by VBS eerder as by ander banke te maak in ruil vir ’n kommissie wat soms miljoene rande beloop het.