Terwyl die ANC al hoe meer in die rigting van onteiening sonder vergoeding skimp, sukkel die staat om meer as 4 000 plase wat reeds aangekoop is aan hul nuwe eienaars oor te dra.
Die grondeisekommissaris pak die skuld vir die oponthoud op “onderlinge twis” tussen grondeisers.
Roelf Meyer, oudpolitikus en direkteur van die In Transformation Initiative (ITI), sê syfers van dié maatskappy sonder winsbejag se navorsingsafdeling toon die regering besit 4 323 “plaaseenhede” – wat waarskynlik wissel tussen kleiner hoewes en groter plase – wat aangekoop is nadat suksesvolle grondeise teen die eiendomme geregistreer is. Die eiendomme is egter nog nooit oorgedra aan die nuwe eienaars nie.