Gun my in hierdie bydrae enkele wense, gebore uit ’n liefde vir my taal en my mense. In ag genome die populariteit van rymdwang in liriek, skryf ek vandag ’n (pynlik) rymende rubriek.
Ek is vies vir die skrywer van daai retrograde boek*, want dis ’n bron wat die rymelary voed. ’n Boek wat woorde volgens hul uitgange lys, moet verban word uit enige liedjieskrywer se huis. Die samesteller het gedink hy doen ons ’n guns, maar voorspelbare ryme is eenvoudig geen kuns.
Lirieke is nie letterkunde nie, vertel die kenners my, maar selfs vir ’n skoolopstel kan jy tog ’n swak punt kry.