In ’n jaar waarin die mielies groen en geil op Suid-Afrikaanse landerye staan, word mielieboere deur ’n nuwe bedreiging in die gesig gestaar.
Die herfs-kommandowurm, ’n indring wat mielieoeste in verskeie distrikte in Malawi, Zambië en Zimbabwe vernietig het, is nou ook in Suid-Afrika opgemerk.
Dr. Gerhard Verdoorn, plaagbestrydingspesialis en direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, sê dié wurm, wat familie is van die Afrika-kommandowurm, is reeds in Limpopo, die Gautengse Hoëveld, die Vrystaat en selfs op Piketberg in die Wes-Kaap opgemerk.