Twee Suid-Afrikaanse egpare wat die laaste was om na Suid-Afrika terug te keer nadat ’n bom sowat ’n week gelede naby hul toerbus in Kaïro in Egipte ontplof het, sukkel nog met hul beserings en om dié nagmerrie-ondervinding te verwerk.
Francis en Sharon Meth en Basil en Carmel Thompson was deel van ’n groep Suid-Afrikaanse toeriste wat op Sondag 19 Mei op pad na die Giza-piramides was toe ’n bom langs die pad naby hul bus ontplof het.
“Hulle het verlede Woensdag teruggekeer, maar het nog nie heeltemal herstel nie. Dit was vir almal van ons ’n uiters traumatiese ondervinding,” sê Carl Emmanuel, ’n lidmaat van die Katolieke gemeente St. Francis Xavier op die Bluff in Durban.