Siggestremdes ontdek prag van tuin

Die Pionierskool vir siggestremdes se multisensoriese tuin is verlede Donderdag, net soos dit hoort, amptelik met die slaan van ’n ghong geopen.

Die gedagte om ’n multisensoriese tuin te skep waar blindes ’n tuin kan geniet, het reeds in 2016 ontstaan.

Vanjaar het Pionierskool en die Hoërskool Brackenfell vir die ATKV se Handevatprojek ingeskryf en dit is hier waar die multisensoriese tuin die hart van die projek geword het.

“Vir ’n taalonderwyser is dit die perfekte geleentheid om ’n woordanalise te doen wanneer leerders vra hoekom die tuin multisensories genoem word. Dan verduidelik ek dat ‘multi’ na baie verwys en ‘sensories’ na sintuie,” sê dr. Suna Verhoef, ’n Engels-onderwyser by Pionierskool.

Die bakke wat jare gelede gebou is, was oorspronklik om ’n kruietuin van die ruimte te maak, maar dié idee is gekelder, voeg sy by.

Volgens Verhoef het die tuin in 2017 soos ’n hartseer prentjie gelyk met bakke wat oorgroei was met gras, grondvoetpaadjies en ’n stukkende bankie. Maar nou lyk dit heeltemal anders.

’n Mens kan in enige tuin voel of ruik, maar in ’n multisensoriese tuin word voorsiening gemaak sodat ’n besoeker al sy of haar sintuie optimaal kan benut.

In die nuwe tuin is plante wat spesiaal gekies is om aan te raak en te ruik, en paadjies is van verskillende teksture soos kunsgras, boombas, klippe en sand gemaak.

Die tuin het ook instrumente wat leerders of besoekers kan gebruik om musiek mee te maak. Aan sommige bome hang windklokke, gemaak uit onder meer hout en messe en vurke. Mense kan selfs na gedigte in die tuin kom sit en luister.

Botaniese inligting is oral in braille aangebring. Die mure om die tuin pronk met prente wat Afrikaans.com gemaak het van idiome wat met klanke te doen het.

Prof. Franci Greyling en die Byderhandspan van die Noordwes- Universiteit in Potchefstroom het ’n digitale aspek tot die projek gelewer met tuinverse wat deur selfone speel deur ’n QR-kode te skandeer. Dit laat besoekers hul gehoorsintuie inspan.

Digters soos William Rowland asook van die Pionierskool se leerders en oudleerders is gevra om ’n bydrae tot die projek te lewer. Die kodes van die gedigte en stories is in die tuin en elders op die skoolterrein aangebring en besoekers kan op ’n spesifieke plek na gedigte en stories oor die plek luister.

“Ons bars van trots. Dit is ’n gevoel van bemagtiging vir siggestremdes van ons skool en Worcester. Dit sê: ‘Dit is ons plek; ons stories. Ons hoort hier; dit is ons s’n’,” sê Verhoef.

besig om te laai... Regstreeks
India 0
Australia 12/0
besig om te laai... Regstreeks
Dragons 0
Munster 0
Rand - Dollar
17.93
-1.8%
Rand - Pond
19.45
-0.0%
Rand - Euro
17.37
-0.0%
Rand - Aus dollar
11.70
-0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.0%
Goud
1,643.66
0.0%
Silwer
18.87
0.0%
Palladium
2,073.00
0.0%
Platinum
858.50
0.0%
Brent-ruolie
86.15
-5.0%
Top-40
57,110
-3.1%
Alle aandele
63,417
-2.9%
Hulpbronne 10
56,319
-7.5%
Industriële 25
78,436
-1.2%
Finansiële 15
14,142
-1.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos