Die Hoërskool Monument van Krugersdorp moes Vrydag vir die tweede keer vanjaar ’n groot agterstand uitwis om eindelik met 42-36 as die wenners uit die stryd te tree teen Napier Boys’ High van Nieu-Seeland by die Wêreld-skolerugbyfees by die Hoër Jongenskool in die Paarl.
Die Kiwi’s was ’n groter bedreiging as in hulle eerste wedstryd, waar hulle met 26-59 teen Boland Landbou vasgeval het, en drie drieë deur Luke Russell, Tyronne Thompson en Patrick Reddy het aan die buitelanders binne die eerste 15 minute ’n voorsprong met 17-0 gegee.
Monnas, met hulle SA Skole-haker en kaptein, Morné Brandon aan die spits, het herstel van die blitzkrieg en beheer oor die wedstryd begin neem, met dié bielie wat uitstekend vertoon het.