****
Om ’n musiekblyspel van die legendariese Stephen Sondheim aan te pak, moet jy baie dapper of ’n bietjie gek wees. Dié geniale komponis en liriekskrywer het immers destyds al dié genre op sy kop gedraai en word deur baie beskou as die voorste eksponent van die kunsvorm.
Met hul aanbieding van Sondheim se gewilde Into the Woods plaas Pieter Toerien en regisseur Steven Stead van KickstArt al die tweede keer hul geestesgesondheid (en beursies) op die spel. Hul Sweeney Todd: The Demon Barber of Fleet Street is ’n ruk gelede entoesiasties ondersteun en vleispasteiverkope het waarskynlik ’n bloeitydperk ervaar.