Helen Zille se beskouings oor kolonialisme het tot groot verdeeldheid in die DA gelei. Christi van der Westhuizen vra of sy nie dalk in die pad van ’n nuwe Afrika-liberalisme staan nie.
Die eerste keer wat ek van Helen Zille gehoor het, was in om en by 2000. As parlementêre beriggewer het ek min in die Wes-Kaapse politiek belang gestel. Maar haar naam het oor en oor opgeduik as iemand wat ’n ander soort politiek beoefen, hoewel sy in die destydse DP was.
Daar is gesê sy is hands-on, sy is Xhosa magtig en probeer as LUR vir onderwys probleme by skole oplos in álle buurte, nie net wittes nie. Die berigte oor haar het iets anders gesuggereer as die DP se beledigende 1999-verkiesingsveldtog met die “Slaan terug”-boodskap en Tony Leon as ’n “angry white man” wat dikbek oor demokrasie is.