Die onlangse beriggewing oor die moontlikheid van die konstruksie van die sogenaamde oostelike verbypad, het heelwat reaksie ontlok. Wat is die voordele van hierdie pad, sou dit gebou word?
Volgens Gustav Bester van TechstelSRA, ’n organisasie wat hoofsaaklik uit belanghebbendes in Tegnopark bestaan, is dit goed dat behoudende mense soos prof. Hans Eggers van Paradyskloof pleit vir gebalanseerde beplanning en implementering van grootmaatinfrastruktuur in Stellenbosch.
“Dit bevorder, onder meer openbare vervoer en niegemotoriseerde vervoer (NMT) as die oplossings vir die haglike en versmorende verkeerstoestand in Stellenbosch. Al twee oplossings is logies en moet ondersteun word as dele van ’n geïntegreerde vervoerplan, maar om slegs dit in te stel sonder die nodige mobiliteit, sal nie die probleem oplos nie. As ’n mens in die verkeer vasgevang sit, verkies jy tog seker om dit in jou eie motor te doen as in ’n openbare bus.”
Volgens TechstelSRA het Stellenbosch die opgradering van toegangsroetes dringend nodig.
“Die oostelike verbindingspad is ’n noodsaaklikheid vir Stellenbosch se groei en ontwikkeling. Die ontwikkeling van die terrein van Bo-Brandwacht en rondom die Paradyskloof-wateraanleg sal nie sonder die verbindingspad moontlik wees nie, maar die verbindingspad is nou reeds – sonder enige ontwikkeling – nodig om die huidige verkeersvloei te verbeter. Goedkeuring vir sodanige ontwikkelings moet in elk geval onderwerp word aan die munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (MROR) se klem en voorkeur vir verdigting en ontwikkeling in noordelike en suidweswaartse rigtings, en kan afgekeur word indien teenstrydig. Die pad is noodsaaklik vir mobiliteit om die verkeersprobleem op te los, in samehang met openbare vervoer en NMT.
“Hoewel sommige behoudende individue blykbaar gekant is teen enige vorm van ontwikkeling en vooruitgang, is die realiteit dat Suid Afrika nog ’n ontwikkelende land is, en dit sluit Stellenbosch in,” sê Bester.
Hy sê Stellenbosch se toegangspaaie het basies dieselfde gebly sedert die middel 1970’s. In die 1970’s is al die toegangsroetes rondom Stellenbosch tot die bestaande roetes opgradeer.
Sedertdien, met die uitsondering van die Helshoogtepad, is feitlik geen nuwe paaie – veral aan die suidekant van Stellenbosch – gebou nie. “Vir al die duisende voertuie wat daagliks aan die suidekant van die dorp in en uit moet ry, is daar slegs die ongemaklike Van Reede-Piet Retief-toegang wat boonop met die verkeer van vyf skole bots.
“Die middedorp het baie kantoorruimte weens die verdigtingsbeleid van die munisipaliteit bygekry, die Eikestad Mall is opgradeer, die universiteit se getalle het tot ongeveer 30 000 studente gestyg en skole se leerdergetalle het toegeneem.
Stellenbosch se bevolking het van ongeveer 100 000 in 1996 tot bykans 200 000 nou gegroei.
“Die opgradering van die universiteit se sportgeriewe, insluitend die Coetzenburg-atletiekstadion, het ook ’n groot invloed op verkeer. Maties-rugby, die beplande nasionale tennisakademie en talle wêreldklasbyeenkomste en geleenthede lok gedurig nuwe besoekers na Stellenbosch.
“PRG met meer as 1 200 leerders het ’n sportakademie, en Laerskool Eikestad, Bloemhof Hoër Meisieskool en Rhenish Primary en Rhenish Girls’ High veroorsaak geweldige verkeersdrukte in spitstye. Leerders, studente en werkendes bestee baie onproduktiewe tyd terwyl hulle in die verkeer vasgevang is.
“Dan is daar Tegnopark wat ook in volume groei met ’n groot handelsbank se nuwe hoofkantoor asook die nuwe Mediclinic Stellenbosch wat verdere verkeersdrukte sal veroorsaak.
“Die oostelike verbindingspad is lank gelede reeds in die vooruitsig gestel en is in 1968 as provinsiale hoofpad geproklameer. Die gedeelte deur Paradyskloof is reeds gebou. Alle inwoners en onlangse kopers van eiendomme in Paradyskloof, Bo-Brandwacht en Dalsig wat hul huiswerk gedoen het, moet bewus wees van die voorgestelde pad en kan nie beweer dat dit ’n nuutjie is wat hul eiendomwaardes nadelig gaan beïnvloed nie.
“Die pad gaan ook nie Stellenboschberg beïnvloed nie aangesien dit grotendeels deur reeds bewerkte of beboude gedeeltes sal gaan. En langs Dalsig af sal daar ’n beduidende afstand tussen die bestaande huise en die pad wees.
Die pad sal ook verkeersvloei na en van die skole af dramaties met ’n verbinding na Van Reedestraat vergemaklik.
“ ’n Verdere moontlikheid wat die oostelike verbindingspad bied en wat in die huidige MSDF ondersoek behoort te word, is om die aansluiting van die pad by die dorp naby die Landbousaal te maak, met parkering aan die suidekant van die rivier, langs Paul Roos. Sodanige parkering kan motors uit die middedorp hou en selfs uiteindelik die situasie skep waar sommige strate in die middedorp slegs vir voetgangers toeganklik gemaak kan word. Die Landbousaal kan as verwelkomingsentrum van die dorp dien.
“Daar is ook verskeie kleinskaalse aanpassings aan Stellenbosch se padstelsel wat tydelike druk kan verlig en veiligheid kan verbeter. Dit sluit in die links-in-links-uit-voorstel vir Paradyskloofpad, opgraderings van alle aansluitings met die R44, verbeterde verkeersligsiklusse en moontlike eenrigtingverkeer in Kochstraat (noord) en Piet Retiefstraat (suid) wat tesame met die Paul Roos-Spar-sirkel en die Vredestraatpark as ‘sirkel’ groot druk op die skole-knooppunt kan verlig,” meen Bester.
Hy het bevestig dat Tegnopark SRA die beplanning en bou van die oostelike verbindingspad ondersteun as ’n kritieke korttermynoplossing voordat Stellenbosch versmoor.
’n Tweede toegang na Tegnopark is ook van kritieke belang vir verdere ontwikkeling daar. Dit sal nie net toegang na Tegnopark dramaties verbeter nie, maar ook verkeersverligting op ander paaie tot gevolg hê.