Beste Barnard
Baie dankie vir die ope brief wat jy aan my gerig het in Beeld (20 Februarie) Dit was lekker om te lees dat jy positief is oor ’n hele rits van die aktiwiteite wat AfriForum pak, asook AfriForum Jeug se suksesvolle regstappe ter behoud van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US).
Soos wat dit ’n onafhanklike joernalis betaam, huiwer jy ook nie in jou skrywe om kritiek uit te spreek teen een van AfriForum Jeug se aksies by Tukkies waarmee jy nie saamstem nie. Ná die positiewe vergadering wat ek en die res van AfriForum se bestuur met jou gehad het, is ek van mening dat Beeld, noudat jy die redakteur is, nie weer sal verval in die eensydige en ideologiesgedrewe beriggewing wat ons tydens die sogenaamde “Nazi”-voorval by die Pukke gesien het nie. Ek beskou jou kritiek dus as ’n positiewe geleentheid om ’n konstruktiewe debat te voer en om AfriForum Jeug se optrede in perspektief te stel.