’n Voormalige Blou Bul-rugbyspeler dagvaar die Blou Bulle Maatskappy en ’n spandokter vir R45 miljoen nadat die speler drie jaar gelede nie van die veld af gehaal is ná ’n besering tydens ’n wedstryd nie.
Morné Mellett (28), voormalige Blou Bul-stut, is in Julie 2015 beseer in ’n wedstryd in die Superrugbyreeks tussen die Bulle en die Kings in Port Elizabeth. Die dagvaarding beweer die spanbestuurders en spandokter, dr. Herman Rossouw, was nalatig deur Mellett toe te laat om verder te speel al moes hulle geweet het dit sou nadelige gevolge vir sy gesondheid inhou.
As gevolg hiervan moes Mellett sy droom om internasionaal rugby te speel prysgee en leef hy met ’n swaard oor sy kop weens ’n bloedklont wat “enige oomblik” na sy brein kan gaan. Die Blou Bulle sal die dagvaarding teenstaan.