Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners kan maar ’n sug van verligting slaak: Pieter-Steph du Toit se skouerbesering is nie ernstig nie.
Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar (vir die 2018-seisoen) toer wel nie saam met die Stormers Argentinië toe vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Jaguares in Buenos Aires nie, maar behoort fiks te wees vir die kragmeting op 18 Mei met die Crusaders op Nuweland.
Groot kommer het geheers toe Du Toit die veld in die tweede helfte van die afgelope naweek se sege van 24-23 oor die Bulle op Nuweland moes verlaat, gegewe dat hy as ’n sleutelspeler vir die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog beskou word.