’n Ondersoek wat SuperSport geloods het ná ’n brief waarin vier swart ontleders dié uitsaaier van onder meer rassisme, viktimisasie, inkomsteongelykheid en intimidasie aankla, is byna voltooi.
Daar word ook betroubaar verneem dié brief, wat MVMT Attorneys namens Owen Nkumane, Xola Ntshinga, Kaunda Ntunja en Gcobani Bobo aan SuperSport gestuur het, is reeds laat in Mei aan SuperSport gerig.
Die brief is dus gestuur ná die Ashwin Willemse-voorval, waarin Willemse op 19 Mei die SuperSport-ateljee tydens ’n regstreekse uitsending verlaat het nadat hy sy medeontleders Nick Mallett en Naas Botha van neerhalende gedrag teenoor hom beskuldig het en ook na Mallett en Botha as spelers van die apartheidsera verwys het.