Met Die diepblou see duik die leser diep saam met François Loots om te klief na die verlede op soek na die vermaarde politikus Jan, oftewel Jantjie, Hofmeyr. ’n Fiksionalisering dus van die historiese figuur en fakkeldraer van ’n liberalisme wat sy tyd ver vooruit was. Loots karteer die tydgleuf van Hofmeyr met deernis en ’n stewige skeut magiese realisme.
Die storie is kreatief bedink om die boek nie soos ’n pseudo-biografie te laat voel nie. ’n Kroniek van Hofmeyr se lewe is die boek beslis nie. Ryk aan atmosfeer, egter, herskep dit die milieu waarin Hofmeyr as openbare figuur na vore sou tree treffend. Wat fokus betref, gebruik die skrywer veral newekarakters om Hofmeyr te belig.