Verligting wag dalk om die draai in die droogtegeteisterde Vrystaat met goeie reën wat teen volgende naweek oor die provinsie kan val.
Dit is die goeie nuus van Tonie Rossouw, die weerkantoor in Bloemfontein se senior voorspeller, aan Vrystaters. Die provinsie moes die afgelope weke versengende hitte en stofstorms trotseer, maar dit lyk nou asof die weersomstandighede oor ’n week sommer baie aangenamer gaan wees.
Die hittegolftoestande wat die afgelope paar dae geheers het, behoort reeds teen vandag iets van die verlede te wees. Koel lug uit die suide sal oor die sentrale streek invloei en die gebied afkoel.