Hy was ’n “warm, humoristiese, lagmens”, het ds. Willem Liebenberg van die NG kerk in Bonnievale in die Wes-Kaap Dinsdag gesê oor Tool Wessels (55) wat vroeg Maandagaand in ’n plaasaanval vermoor is.
Wessels, wat op die plaas Kapteinsdrif net buite die dorp met vrugte en wingerd geboer het, het pas by die huis aangekom nadat hy van sy werknemers gaan aflaai het.
Hy sou daarna na ’n kooroefening gaan en sy vrou, Liezel (55), was op pad na ’n sel-groep. Wessels was ’n bekende gesig in die gemeenskap en Liezel, ’n kranige tweekampatleet, het Maandag voor die aanval nog geoefen.