Die landelike ekonomie is onder geweldige druk sedert die H5N8-voëlgriepvirus in Suid-Afrika en onlangs in die Wes-Kaap uitgebreek het, meen kenners.
Dit volg op die hakke van ’n epidemie van ’n ander voëlgriepvirus, H5N2, wat in 2011 in die Klein-Karoo uitgebreek het. Sedertdien het volstruisprodusente in Suid-Afrika van rondom 1 000 na net sowat 417 afgeneem. Daar word ook altesaam 30% minder volstruise geslag.
“Die landelike ekonomie is onder geweldige druk weens die uitbreking van die hoogs patogene H5N8-virus,” sê dr. Adriaan Olivier, ’n veearts by die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer (SAVBK).