Bewaringsorganisasies en grondeienaars van die Lakenvlei-gebied was Vrydag in ekstase omdat die waterryke gebied amptelike bewaarstatus gekry het – maar Maandag was hulle op die oorlogspad toe hulle sien stootskrapers is in een van die vleie doenig om voorbereidings te tref vir ’n myn.
Die mynboubedrywighede vind plaas in ’n ekologies sensitiewe gebied, in die opvangsgebied van die Olifants- en Komatirivier tussen Belfast en Dullstroom. Die bedrywighede word omring deur die Lakenvlei bewaarde gebied.
Andy Mills, voorsitter van die Lakenvlei-grondeienaarsvereniging, sê die grondeienaars het met regstappe teen William Patrick Bower (WPB) begin en gaan die hof nader om ’n interdik te kry teen sy mynbedrywighede. ’n Gedeelte van die plaas Groenvlei en ’n deel van Lakenvlei behoort aan Bower.