Die onlangse Twitter-onderonsie tussen onder andere Helen Zille, Wes-Kaapse premier, die akteur Hlomla Dandala en adv. Thuli Madonsela, voormalige OB, oor wit- en swartbevoorregting, het die oë laat rek.
Die inhoud daarvan getuig nie net van ongeheelde verhoudinge en diepliggende ongelukkigheid nie, maar toon veral hoe ver ons as Suid-Afrikaners nog moet gaan om mekaar net as mense te sien.
Dit het ook hierdie vrae by my laat ontstaan: Gaan ons ooit die dag bereik wanneer ons nie meer die apartheidstroefkaart speel nie, nie meer mekaar kategoriseer in rassegroepe nie, en of ons die kwade van kolonisasie ooit sal kan oorbrug en die tentakels daarvan sal kan afskud? En is dit in ons bloed en beskik ons oor die vermoë en wilskrag om dit wel te wil doen?