Vandeesmaand word wêreldwyd bewustheid geskep van Alzheimer se siekte. Willemien Brümmer skryf oor Die Groot Vergeet.
Dis soos ’n biblioteek wat in ’n stadige aksieprent afbrand. Hier en daar sien jy nog ’n rak vol smeulende woordeboeke, maar jy weet ’n kolos is tot niet.
Prof. Piet Albertyn* (skuilnaam) was ’n hoogleraar in wiskunde en ’n wêreldklas-wetenskaplike. Sy geheue was ensiklopedies. As jy iets wou weet oor die filosofie of die geskiedenis, of selfs die Italiaanse letterkunde, kon jy hom bel. Hy’t ses tale vlot gepraat en selfs lesings gegee in Italiaans en Duits. Boonop was hy ’n briljante storieverteller; iemand wat in ’n ander lewe ’n Skrywer-met-’n-hoofletter sou kon word.