Watertariewe sal gemiddeld minstens met 65% styg as die departement van water en sanitasie se nuwe prysstrategie aanvaar word.
Dié strategie is vir die volgende drie weke nog vir kommentaar beskikbaar. Luidens die kennisgewing wat in die Staatskoerant gepubliseer is, moet daar ’n klemverskuiwing kom sodat die volle koste van water regstreeks van verbruikers verhaal word.
Verbruikers moet betaal vir waterbron-bestuurskoste, infrastruktuur-instandhouding, ’n beplande ekonomiese reguleerder vir water, die water-navorsingskommissie en afvalwaterbestuur. Die beleid beklemtoon dat watertariewe die waterskaarste in die land behoort te weerspieël en vermorsing moet ontmoedig.