“Ongetwyfeld ’n strafskop.”
Dís die siening van die man wat die diepste spore van enige skeidsregter in die geskiedenis van wêreldrugby getrap het, André Watson, oor die voorval waarin die Engelse losskakel, Owen Farrell, in die doodsnikke van Saterdag se toets op Twickenham die Springbokke se plaasvervanger-senter, André Esterhuizen, met die skouer disnis geloop het.
Het die Australiese skeidsregter Angus Gardner ’n strafskop toegeken, sou die Bokke pale toe kon korrel om die toets te wen. Suid-Afrika het met 11-12 verloor.